Telkom Satellite Cycle Classic 2009 (107 km)
•Oktober 25, 2009 • Lewer KommentaarBeskerm: Matriekafskeid
•Oktober 20, 2009 • Enter your password to view commentsItec Connect Dome-2-Dome 2009 (91km)
•September 14, 2009 • Lewer Kommentaar

Datum: 13 September 2009
Afstand: 91 km
Tyd: 3:38:07
Gemiddelde Spoed: 25.03 km/h
Maksimum Spoed: 66.9 km/h
. . .
Na die ‘Argus van Storms’, ‘n herfs en amper ‘n hele winter van niks doen, is ek eintlik heel tevrede met my prestasie. Wat my betref is dit glad nie te sleg vir ‘n weer begin nie.

Alhoewel ek my kant die afgelope 5 weke gebring het deur redelik gemotiveerd te oefen was ek nie naastenby fiks genoeg vir dié 91 km nie – Dit was regtig ‘n moeilike ene!
Soos enige ander sport het fietsry ook oor die jare in ‘n gespesialiseerde sportsoort ontwikkel. Tog, ten spyte van die vooruitgang op tegnologiese en wetenskaplike gebied het fietsry as sport in wese steeds dieselfde gebly - Die fietsryer is steeds die enjin wat die fiets aandryf.
Die formule vir goeie prestasie is dus nie opgesluit in die gehalte van die fiets en toerusting nie, maar eerder in die fietsryer se fiksheid, ervaring en natuurlik ryvernuf. Indien jy dus wil vorder in fietsry moet jy jouself verbind tot toegewyde oefening en kilometers in die saal, punt.
Daar is vir my nou geen omdraai meer nie. Gelukkig geniet ek elke oomblik daarvan. My volgende groot uitdaging is die 94.7 wat in November aangebied word. Hou die spasie dop!
Keuse en aankoop van ’n fiets
•Augustus 21, 2009 • Lewer Kommentaar 
Hoe kies ek die regte fiets?
Daar is vandag ‘n groot verskeidenheid fietse op die mark, maar in die algemeen word hulle in drie hoof kategorieë ingedeel nl.: padfietse, bergfietse en hibriedfietse. Dit is dus sinvol om in ag te neem watter tipe fietsry jy wil beoefen.
Wat geniet jy? Hou jy van spoed? Beplan jy om op die pad of in die veld te ry? Kies ‘n bergfiets indien jy hoofsaaklik in die veld gaan ry. As jy op die pad gaan ry kan jy enige fiets oorweeg.
‘n Padfietse lyk soos ‘n resiesfiets met ‘n geboë handvatsels, het dun bande met dun loopvlak, hulle is lig en stewig. Jy sit redelik laag en jy moet strek om die handvatsels by te kom. Indien jy nie soepel is nie kan dit in die begin ongemaklik wees om aan gewoond te raak.
‘n Bergfiets het breë bande met ‘n dik loopvlak, ‘n goeie veringstelsel wat die skok absorbeer, het reguit handvatsels en ‘n regop ry posisie. Indien spoed nie vir jou belangrik is nie kan jy (in gemak) met jou bergfiets op die pad ook ry. Die breër bande vertraag jou spoed.
Hibriedfietse is half ‘n kombinasie tussen ‘n padfiets (met ‘n reguit handvatsel) en ‘n bergfiets. Sy bande is dikker as dié van padfietse wat jou meer beheer gee en die regop ry posisie maak dit weer makliker om in die verkeer rond te kyk. Indien jy bande met ‘n breër loopvlak kies is hierdie fiets ook geskik om in die veld mee te ry.
Wat jy nog moet weet:

Die regte raam grootte
Dis belangrik om die regte raam grootte te kry. Die fietshandelaar behoort jou te meet (binnebeen van die kruis tot by die vloer), dit sal bepaal watter raam grootte jou nodig gaan hê.
Die regte saal en saal hoogte
Die handelaar behoort jou hiermee ook te help. Verander die saal indien nodig. Daar is saals wat spesifiek vir mans of dames gevorm is en wat die gewig voldoende ondersteun. Kry by die handelaar die regte saal hoogte en maak ‘n permanente merk op die saalpen. Die hoë saal kan in die begin erg ongemaklik voel. Ek het my saal geleidelik oor tyd opgestel tot waar dit moet wees.
Handvatsels
Maak seker dat die handvatsels maklik bereikbaar is. Indien jy enigsins ongemaklik voel, vra die handelaar om die pen van die handvatsel vir jou om te draai, dit lig die hele handvatsel. Die pen kan ook verkort word om die handvatsel nader aan jou te bring.
Skoene en pedale
Fietryskoene verbeter nie net jou prestasie nie, dit verseker gerief en ondersteun ook jou voete om ooreising te voorkom. Die keuse van jou skoene hang weer van die keuse van die pedale af. Daar is hoofsaaklik drie soorte pedale nl.: gewone pedale, pedale met plastiek-toonklampe (soos op die meeste oefenfietse) en knip-pedale (wat ‘n spesiale knip/cleat aan die onderkant van jou skoen het wat in die pedaal inknip).
Knip-pedale bly jou beste opsie, aangesien jou voet altyd in die regte posisie bly en jy jou beenspiere gebruik om af te trap sowel as om mee op te trek wanneer jy trap. Dis aanvanklik skrikkerig om met die goed te ry, mens is bang jy kry die goed nie betyds uitgehaak in ‘n noodgeval nie, maar na jou eerste val knip dit eintlik heel maklik in en uit. Nietemin, daar is twee soorte knip-pedale, een wat spesiaal ontwerp is vir die pad en een vir die veld. Albei doen presies dieselfde, die groot verskil kom by die skoene. Dis belangrik om eers te besluit op die skoene voor jy op die pedale besluit, moenie dat die ouens jou op hierdie ene ompraat nie. Ekself het ongelukkig padskoene (soos in foto hierbo) gekoop net omdat my fiets reeds padpedale opgehad het, dit was in meer as een opsig ‘n groot fout. Veldskoene het die GROOT voordeel dat jy normaal daarmee kan stap en dit pas ook in al die oefenfietse se pedale in.
Valhelm
Die valhelm is verreweg die belangrikste bykomstigheid. Kies een wat aan die veiligheidstandaarde voldoen. Vra die verkoopsman om jou te help om ‘n veilige keuse te maak. Wanneer jy dit aanpas en nog voor jy dit vasgemaak het, moet dit styf genoeg pas sodat jou kopvel ook beweeg wanneer jy die valhelm beweeg. Die bande kan jy verstel sodat die valhelm waterpas sit.

Ander noodsaaklike bybehore
Enigiets kan langs die pad gebeur, moenie sonder hierdie toerusting ry nie, dit help om jou veiligheid te verseker en dat jy ‘n aangenamer fietsry ervaring sal hê:
-
Nood-binneband
-
Bandherstel-stelletjie
-
Fietspomp
-
Allen-sleutel stelletjie
-
Voorlig (wit lig)
-
Agterlig (rooi lig)
Minder noodsaaklike bybehore
-
Fietsryhandskoene
-
Fietsrybroek
-
Pepergas (Indien jy in Gauteng bly)
-
Bottelhouer vir jou waterbottel
Waar koop ek my fiets?

Baie belangrik, moenie by die eerste en beste fietswinkel jou fiets gaan staan en koop nie. Kry eers ‘n realistiese idee van hoeveel jy op ‘n fiets, skoene, valhelm en ander toebehoere sal spandeer. Maak seker jy onderhandel met ‘n senior verkoopsman wat self ondervinding van fietsry het (hy moes ten minste die Argus en die 94.7 al self gery het, hehe). Ernstig, indien ‘n verkoopsman aan jou ‘n fiets probeer verkoop wat nie by jou liggaam of jou begroting pas nie of nie is wat jy in gedagte gehad het nie, besoek ‘n ander handelaar.
Nog iets wat jy sommer nou al moet weet. Die koop van jou fiets is slegs jou eerste besoek aan die handelaar, beslis nie jou laaste ene nie. In die volgende jaar gaan jy hierdie ouens meer as jou apteker besoek. Op die langtermyn werk dit jou goedkoper uit om verhoudinge te bou met iemand wie jy kan vertrou. En onthou die kleiner ouens se pryse is nie noodwendig duurder nie. En moet tog nie die fout maak wat ek gemaak het om nie Frans se voorstel van ‘n tweedehandse fiets te oorweeg nie. Daar is uitstekende tweedehandse fietse in die mark teen billike pryse beskikbaar. Bitter baie ouens wat vir die eerste keer ‘n fiets koop, koop binne die volgende jaar vir homself ‘n beter ene.
Jy het nie duur fiets of gesofistikeerde toerusting nodig om mee te begin nie. Koop liewer ‘n fiets volgens jou behoeftes. Een wat jou veilig en gerieflik sal dra waar jy ook al besluit om te ry. Besluit hoeveel jou brein vir jou werd is en spandeer dan liewer minder op jou fiets en meer op jou valhelm.
. . .

“Achievement seems to be connected with action.
Successful men and women keep moving.
They make mistakes, but they don’t quit.”
~ Conrad Hilton~
‘n Lewe in ‘n tas
•Junie 19, 2009 • Lewer KommentaarDigitale manipulasie
•Mei 28, 2009 • Lewer KommentaarDie verwydering of byvoeging van elemente in ‘n foto word as manipulasie beskou.
Digitaal-gemanipuleerde foto’s kan as ‘n vorm van vervalsing gesien word.
. . .
Wees versigtig en maak seker!
Foto’s via epos ontvang (Photoshop Mistakes)
Kango-grotte, Oudtshoorn
•Mei 22, 2009 • Lewer Kommentaar’n Ondergrondse juweel waar God se vingerafdrukke oral teenwoordig is.
Oeroue stalaktiete (afhangende druipsteenkeël) en stalagmiete (regop staande druipsteenkeël) oor duisende jare gevorm deur druppende water wat kalk bevat.
Asemrowend en onbeskryflik mooi!
Hier is ’n paar foto’s wat ek tydens ons ’standaard’-toer daar afgeneem het. (Die avontuurtoer is nie vir sissie nie! Dis regtig bedoel vir die ouens met die sterk harte en lae bloeddruk. Glad nie geskik vir swanger vroue, persone met rugprobleme of iemand wat aan ENGTEVREES lei nie! Volgens Mammie het ons hele gesin jare gelede die avontuur-toer-ding saam gedoen. Ek onthou dat ek daar was, en ook dat hulle toe net van gekleurde ligte gebruik gemaak het, maar van die SKOORSTEEN gedeelte kan ek glad niks onthou nie?!)
Nota aan myself:
-
Die foto’s wat baie geel vertoon (soos 2, 12 en 13) is afgeneem met my kamera se flits (built-in flash), die ander was sonder die flits geneem. (Dit maak nogal ‘n verskil)
-
Ek het niks aan die foto’s se kleure ge-’edit’ nie, en
-
Ek was vir die soveelste keer spyt oor ek nog nie ‘n statief (tripod) gehad het nie. (Ja toemaar, dis vir my ook ‘n nuwe woord), en
-
Ek het só gewens my meisiekind kon dit saam ons ervaar. (Sy was gedurende dié week by Tukkies se Beeldskool in Pretoria)













Daar’s steeds ’n klein gedeelte wat met gekleurde ligte belig word. Die mense het almal ge-’wooow’, maar ek het nie daarvan gehou nie - Selfs op die foto’s is dit erg onnatuurlik. Ek verkies die natuurlike kleure.

Ongelukkig: Een van die negatiewe gevolge van Kango I wat oopgestel is vir die publiek, is dat die temperature binne die grotte weens die beligting en asemhaling oor baie jare verhoog het tot ’n konstante (onsuiwer) warm en bedompige 18°C – dit het die oorspronklike briljantheid van die wonderlike kristal kleure verdof. Dis jammer. Die gelukkige paar wat wel Kango II en III gesien en self beleef het, vertel in ’n dokumentêr van ’n asemrowende feetjieland en ’n kristal skoonheid wat op geen film vasgevang kan word nie.

Wat my betref speel vandale ’n veel groter rol. Daar’s maniere om lug te suiwer en temperature te reguleer, maar daar is niks wat dít kan vervang wat in ’n oomblik van dwaasheid afgebreek is nie…


Die avontuurtoer begin hieso… (need I say more…?)

Moeilik om te glo, maar daar’s mense wat in Oudtshoorn draai (en selfs daar woon) wat die uithoeke van die aarde al besoek het, maar nog nooit hierdie beeldskone ondergrondse wonder van ons eie land gesien en ervaar het nie!

Links van die grotman is ‘n ware weergawe van
die Liefdestonnel en regs van hom is die die Skoorsteen en die Posbus.
Groet die grotvrou
’n Ene Veronica Hlabelela (37) van Durban moes in 2007 met spesiale bergklimtoerusting uit die “Liefdestonnel” bevry word. Sy het gegly en toe het haar voet vasgesit. Nóg 22 mense, onder wie ’n vyfjarige kind, was vir bykans nege uur saam met haar vasgekeer. Die groep kon nie uitkom nie en komberse en eet- en drinkgoed is deur ’n opening aangegee. (Dit maak nie sin. Hoekom kon die ouens agter haar nie maar net omgedraai het nie?) Dit was blykbaar die eerste keer in ’n eeu dat iemand in dié tonnel vassit, gewoonlik sit hulle in die skoorsteen en posbus vas, maar word maklik bevry. (Hulle word seker net vir twee weke gelos sonder kos en water en wikkel dan vanself los?) Die vrou het ook glo voor die tyd by die bestuur gaan kla toe sy gewaarsku is om nié die avontuurroete aan te durf nie…
(Kan nie help om te wonder of enige grot haar ooit weer sal sien?)

‘n Waarheid…?
“Maak ons die grotte toe, dan maak ons Oudtshoorn tot niet…” ~ Noël Petersen
Ja, ek dink ook so. Die Kango-grotte is een van Suid-Afrika se bekendste toeriste-aantreklikhede. ’n Nasionale en internasionale gedenkwaardigheid wat sowat 300 000 toeriste per jaar na Oudtshoorn lok. Dié natuurwonder is ongeveer 29 km van Oudtshoorn en lê in die hartjie van die Kango Vallei aan die voet van die Swartberge wat internasionale bewaringstatus het.
‘n Feit of net ‘n afgehandelde saak?
Volgens ons toerleidster was daar op ’n stadium (en ek vermoed steeds) polemiek oor wie presies die Kango-grotte ontdek het. Alhoewel sy volstaan het by Van Zyl, het ek bietjie gaan oplees en op die volgende afgekom in die Oudtshoorn Forum (September 2008). Om kort te gaan, Dr. Boemkhe skryf in 1947 die volgende:
“Die grotte is in 1780 ontdek deur Klaas, ‘n slaaf wat aan ‘n boer, ene Van Zyl behoort het. Van Zyl het Klaas gestuur om beeste wat op sy plaas “Kombuis” weggeraak het, te gaan soek en in sy soektog het hy op ‘n groot opening in die berg afgekom… Blykbaar het Van Zyl aanvanklik nie veel belang gestel in hierdie ontdekking nie, maar Barend Oppel, ‘n gewese matroos wat as onderwyser vir van Zyl se kinders by hom in diens was, het baie hierin belang gestel en hy het Klaas gevra om hom te gaan wys waar die grot was, Ook Van Zyl het later begin belangstel en hy, Oppel, Klaas en nog sewe ander slawe het die grot besoek om verdere ondersoek in te stel. Van Zyl is met rieme laat sak en het hom in ‘n reuse saal, later genoem die Van Zyl-Saal, gevind… Toe die plaas “Kombuis” in 1820 aan Van der Westhuizen verkoop is, is die grotte en toegang tot die ingang, deur die regering uitgehou, want die plaas was kroongrond en Van Zyl het dit slegs gehuur, soos al die ander boere van daardie tyd… In 1891 is ‘n hek by die ingang van die grot aangebring en mnr. Herman van der Veen is as opsigter aangestel…”
. . .
As jy regtig mooi foto’s van die grotte wil sien gaan maak hier ‘n draai: Kango-grotte
Hemelvaart
•Mei 21, 2009 • Comments Off
” As Jesus net as mens gebore is, sou dit ons glad niks gebaat het nie.
Hy moes ook vir ons sondes gesterf het.
Maar as Jesus net vir ons sondes gesterf het, sou dit ons ook niks gebaat het nie.
Hy moes ook uit die dood opgestaan het.
Maar as Jesus net uit die dood opgestaan het, sou dit ons ook niks gehelp het nie.
Hy moes juis teruggaan na God die Vader om vir ons plek voor te berei.”
~ Epiphanies’ van Salamis ~
(Klik op foto om te vergroot)
KKNK 2009
•Mei 16, 2009 • Lewer KommentaarOns was vanjaar vir ‘n eerste keer ook deel van die duisende feesgangers wat opgeruk het na die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) in Oudtshoorn. Tien van die uiteindelike sestien vrinne het die toer saam met JB Train Tours meegemaak.
Dit wat ons op platform 16 by Johannesburgstasie verwag het
en dit wat ons 9:00 daar gekry het, was twee verskillende goed…

Nietemin… die kuier was lekker, die lag was baie, die geselskap was die beste en die uitsig amazing!
(die klein foto’s is in die ry afgeneem)





Vanaf Beaufort Wes is ons per bus verder na Oudtshoorn

Meiringspoort

koud, siek, moeg




Ons het by Langenhoven Gimnasium se koshuis (Songoud) gebly oornag en ontbyt.


Ons vervoer…

Ek het die taxidrywers vreeslik geniet. Joviale mense. Teen ‘n skrale R7 was jy met ’n breëbek-glimlag geneem net waar jy wou wees. Dit was gou duidelik dat elke taxi-eienaar ge-issue was met Kurt Darren se nuutste CD. Kaptein (Span die seile), was almal se gunsteling. En nie hoe nie? KLIPHARD! (en soms ongevoelig hard…)
Dis hoe dit die meeste van die tyd daar geklink het




Mathys Roets se motorfietsongeluk was ‘n groot skok vir baie.
Oral is vir hom gebid en sy vordering is getrou elke dag gevolg.
(Weer besef: Ek is lief vir hierdie land se mense en hoe ons soms dinge hier doen.)

Vir elkeen was daar iets anders waarmee hy of sy kon identifiseer.

Daar was bekende en minder bekende kunstenaars…



Die invloed van die ekonomiese toestand is ‘n werklikheid wat ook hier baie opmerklik was. Nêrens was dit ooit nodig om vir iets in ’n ry te staan nie. Volgens meer gereelde feesgangers en die eienaars van die stalletjies en winkeltjies was dit die jaar baie stil.


Het van die beste kunswerke gesien en kon die mooiste maar net waardeer


baie goedkoop dekor idees gekry
![]()
Moooi

Daar was nie net karikature en stereotipes op die verhoog nie

…ook van die verhoog af was hulle getrou aanwesig.
Omstrede T-hemde, maltraphoede, snaakse brilletjies, genade rokkies en besope studente feesgangers was later glad nie meer snaaks nie.


Ja, die lag was baie!
Tyd vir ernstige oomblikke was min, behalwe natuurlik as jy ‘n kaartjie in die hande gehad het vir een van die hordes toneelstukke. Alles was reeds vroeg uitverkoop. Gelukkig kon ons darem ons hande op ‘n paar lê. Volgende keer sal ek almal se raad volg en vooruit bespreek. Ons het goeie produksies met groot rolverdelings gemis. Nietemin dié wat ons wel gesien het was regtig uitstekend. Lekker tong-in-die-kies, ernstig en tog ook diep. Ek het baie van myself in die karakters gesien en plek-plek was vergete emosies onverwags oopgeruk…
Ek was erg verras deur die reaksie wat kunstenaars soos Chris Chameleon, Romanz, Jakkie Louw, Kurt Darren, Ray Dylan, DJ Ossewa en Wicus van der Merwe ontlok het. My persoonlike gunstelinge was Andre Schwartz, Kevin Leo, Romanz se ‘My hele hart’ en natuurlik die jonge Ray Dylan, wie almal op hul voete gehad het met ‘Jessica’ (ek inkluis).

Willem Botha van Afrikaanse Idols-faam het nie net vir my teleurgestel met sy arrogansie op die verhoog nie. Die jong man het nog heelwat om te leer. Wanneer ’n astertjie haar ewewig verloor en amper van die verhoog af duiwel is dit in swak smaak om die gehoor mee te deel dat sy nou so verlief is op hóm dat sy nie uit haar oë kan sien nie?! En ja tog, dit ís seker net goeie maniere om eerder hulp te verleen as terug te staan en lag. Hugo Ludik, sy kitaarspeler, was baie meer gewild as hy. Hy het verlede jaar die liedjieskryfkompetisie met sy lirieke en melodie vir Kurt Darren se treffer Papsopwinterwaternat gewen. ‘n Jong man met baie talent.
En gits, dit was lekker om hom weer na jare daar raak te loop.

Die KKNK was een GROOT kuier afgerond met kuns en kultuur.

En ja, ek was trots om Afrikaans te wees.
Die volgende liedjie sê dit beter…
Afrikaans sal ek ook altyd wees.



























